February 14, 2008

RESENSIES VAN AFRIKAANSE KINDERBOEKE, November 2005-2:

Viljoen, Fanie - Spoke en ander gruwelike goeters(H&R, 2005) R79,95

‘n Bundel van 16 spookstories met uiteenlopende grillerige en bangmakende situasies. Mensvreters het ‘n begraafplaas waarvoor ‘n seun versigtig moet wees as dit donker word op ‘n jagtog en jou pa het verdwyn; Danser ‘n perd uit die hel waarop ‘n mens net met groot risiko kan ry, want jy mag dalk verbrand; hekse wat kinders uit huise probeer verdryf, nie andersom nie!; karakters soos Jak en Andries wat Buks probeer versuip as aaklige gedaantes; ‘n hitch-hiker se hand wat rondsweef na sy baas geddeltelik verbrysel is onder ‘n trok se wiele…..vampire, geraamtes, ‘n donkerloper, spoke… Daar is min versamelings spookstories in Afrikaans vir kinders, en 10-15 jariges veral sal lekker kan lees en gril. Broodnodig in versamelings.
Heruitgawes van Fritz Deelman en die groen dood, deur Leon Rousseau en Fritz Deelman en die Suidpoolbende (H@R, 2005) R59,95 elk.
Hierdie boeke het geen bekendstelling nodig nie, want die meeste van ons het groot geword met hierdie boeke in biblioteke en tuis. Lekker ontspanningsleesstof ,veral vir seuns.
Barker, Cicely Mary: Die Blommefeetjies ( H&R, 2005) R110
Wat ‘n pragtige boek! Kinders vra bibliotekaresse gedurig of daar nie nog feetjieboeke is nie, en hierdie titel is iets besonders- die ideale kersgeskenk vir dogtertjies. Elke blom en boom het hul eie spesiale feetjie, en die gediggie wat hul begelei is fyn in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo. ‘n Boek wat kinders altyddeur baie plesier sal verskaf. Hoogs aanbeveel.
Die Leeu, die heks en die hangkas, gebaseer op die oorspronklike verhaal deur C.S. Lewis; vertaal in Afrikaans deur Kobus Geldenhuys met illustrasies deur Tudor Humphries. (H&R, 2005) R79,95
‘n Klassieke fantasie verhaal wat hier vir jonger kinders ontsluit word in ‘n groot formaat prenteboek met realistiese kleurvolle illustrasies. Die Towerland Narnia word regeer deur die yskoue Wit Heks . Wanneer Peter, Susan , Edmund en Lucy deur die towerhangkas klim tot binne-in Narnia, beleef hulle ‘n wonderbaarlike avontuur. Want die dag as Aslan vier kinders as Konings en Koninginne van Narnia kroon, sal die Wit Heks se heerskappy verby wees… Dan sal daar vrede wees, almal sal kan lag en lewe, en die eindelose winter sal in ‘n ewige somer verander. ‘n Prenteboek wat jong kinders baie sal geniet; want kinders word hier bemagtig, en dit deur ‘n leeu, die edelste , wonderlikste wese wat hulle nog ooit teegekom het. Die illustrasies vul die bladsye en versterk die gevoel van ‘n grootse avontuur in ‘n asemberowende fantasie wereld.
Roep die maan, deur Ann Walton , met illustrasies deur Natalie Hinrichsen.(Tafelberg, 2005) R69,95. In Afrikaans vertaaldeur Linda Rode.
Ben verlang om die groot, besige stad te verruil vir ‘n rustige bestaan in die berge waar hy groente wil kweek vir ‘n lewe. So verlaat hy die stad om hier ‘n nuwe lewe te begin.Hy bou vir hom ‘n huis van klei en riete , en die volgende dag begin hy die bosse uitkap sodat hy die grond vir sy tuin kan bewerk. Hy laat die fisant se nes met drie ligpienk eiers met rus en hy behou’n ou boom waarin pragtige voels hul tuiste maak. Hy saai pampoen-en mieliepitte, en toe dit tyd word om die plante te oes, is hy verbaas om te sien die mielies is afgeoes en die pampoene is in netjiese stapels opmekaar gepak. Fisant vertel aan die maan dat die voels sy oes vir hom ingebring het. Hulle vra net een bondel mielies vir hul werk, en een pampoen. En dan vertel Ben weer aan die maan dat hy nie hul neste sal vernietig of die bome sal afkap nie. Klein kindertjies leer uit hierdie eenvoudige verhaaltjie om die natuur te respekteer en te bewaar. Die mens en die natuur moet saamwerk om ‘n harmonieuse wereld te help skep. Natalie Hinrichsen se volkleurillustrasies skep die regte rustige atmosfeer en vul die verhaal op ‘n besondere wyse aan. Nie die gewone “run of the mill” boek nie; ek hou van die behoudende elemente.
Vir kleuters:

Otto –kartonboekies: Otto tel van 1 tot 10; Otto se vorms; Otto se kleure; Otto se eerste woorde(H&R, 2005) R32,95 elk.

Kleuters sal hierdie kartonboekies verslind, want Otto bly nou maar eenmaal ‘n gunsteling storieboek karakter. Uiters vrolik en kleurvol is hierdie boekies, en op ‘n prettige wyse sal kleuters blootgestel word aan kleure, vorms, getalle en eerste woorde soos boek,stoel,skoen, tafel, bak, bal , venster, maan. ‘n Nuttige versameling , ideaal vir tuisgebruik en die klein boekies is stewig genoeg vir herhaaldelike bilbioteekgebruik.
My eie diere-telboek, (H&R, 2005) R49,95. Ook in Engels beskikbaar.
Wat ‘n vrolike stewige kartonboekie vir kleuters. ‘n Vriendelike ry diere begroet hul reeds met die eerste oogopslag, en dadelik kan hul ook begin tel so sommer van die een baba-olifant tot by tien skinderbekpapegaaie! ‘n Ideale boek vir saamlees; baie maklik kan die kind blaai na die volgende diertjie of die een wat hom baie interesseer. Philip de Vos het soos gewoonlik die rymende teks in Afrikaans vertaal soos net hy dit kan doen!:, bv.”Vier gestreepte zebras wil net droom en dut, maar glimlag as ‘n vlindertjie op hul neus kom sit”. Groot pret. Hoogs aanbeveel, veral wanneer ons kinders wil wys dat lees n groot plesier kan wees!

No comments: