February 14, 2008

Afrikaans reviews of new books 2005:

Hill, Eric Otto se storieboek (H@R, 2005)

‘n Versameling waarvoor elke kleintjie wag: 200 bladsye van Otto-stories! Die Otto boeke het geen bekendstelling nodig nie. Hierdie karaktertjie bly een van die gewildste vir voorskoolse kinders.
Hill, Eric Waar’s Otto? (H@R, 2005)
‘n Spesiale kartonboekuitgawe van Otto se eerste en bekendste avontuur. Lekker saamlees-pret.
Hill, Eric Otto gaan stap (H@R, 2005)
Nog ‘n gewilde Otto-avontuur. Kinders sal baie bly wees dat meer boeke in Afrikaans beskikbaar is van hul hondjie-maat.
Blakemore, Stella Kobie gaan verder en Juffrou Kobie (H@R, 2005)
Met pragtige nuwe vrolike omslae is hierdie boeke weer beskikbaar vir jong lesers. Altyd gewild.
Donaldson, Julia Die Goorgomgaai (H@R, 2005)
Ek is so bly dat hierdie uiters geslaagde prenteboek weer herdruk is. Die storie word met groot sukses voorgelees en self deur kinders gelees. Behoort in elke biblioteek –versameling.
Grobbelaar, P. W. Aandstories vir kleuters (H@R, 2005)
‘n Versameling aandstories –‘n bundel sprokies wat in 1970 verskyn het en reeds 9 keer herdruk is. Hierdie is ‘n klassieke werk en broodnodig in elke versameling.
Opperman, D. J. Kleuterverseboek (Tafelberg, 2005)
Nog ‘n ou staatmaker waarsonder geen biblioteek kan wees nie: ‘n verseboek vir klein kindertjies is weer beskikbaar!
Nuwe boeke vir kleuters-0- 6 jaar:

Apsley, Brenda Magnete Diere-Atlas (H@R, 2005)

‘n Atlas waar diere uit Noord-Amerika, Suid-Amerika, Wes-Europa, Oos-Europa, Afrika, Asie, Australie en Nieu-Seeland, en die Noordpool en Antartika aan jong lesertjies bekend gestel word. 6 Diere van elke land word ook verteenwoordig deur magnete wat volgens kleur verdeel is , sodat kinders groot pret kan he terwyl hulle leer. ‘n Ideale geskenk vir kinders teen R79,95. Nie vir biblioteekversamelings nie, behalwe as dit spesiaal gebruik word vir storietyd.
Faulkner, Keith Njammies! (H@R, 2005)
Van dieselfde skrywer het die koproduksies Hik! Hik! Hik! en Groot goggas al in Afrikaans verskyn. Die Afrikaans vertaling deur Carina Diedericks-Hugo is in die kol en ek hou veral ook van die titel! KLeintjies kan uitvind deur die flappies te lig wat kabouters bv. eet vir ontbyt; wat nare dwerge aan knibbel, ens. ‘n Pragtige kleurvolle boek waaroor kleintjies baie opgewonde gaan raak. ONthou net dat die flappies versigtig hanteer moet word. Die Illustrasies onder die flappies is baie kwesbaar en mag gou vernietig word. Moet met toesig hanteer word, en in biblioteke nie vir algemene sirkulasie nie; hoor tuis in ‘n spesiale storietyd versameling.
Paul, Nick Oom Japie en die monsterplant ; illustrasies deur Marjorie van Heerden (Tafelberg, 2005)
Baie geluk aan die uitgewer met hierdie besondere prenteboek wat hoort by die groep uitstaande prenteboeke wat oor die jare in Afrikaans verskyn het! Hou asseblief in druk. Die jong skrywer weet hoe om vir kinders te skryf. Die storie van die monsterplant en oom Japie lees lekker, sal heerlik voorlees en definitief kinders se aandag hou. ‘n Plant wat honger word en sy wortels uit die grond kan trek op soek na kos… veral as die maan vol is en alles so spokerig lyk….. Hoogs aanbeveel. Vir voorlees of selflees, 0-8 jaar.
Gilpin, Rebecca & Atkinson, Catherine Feetjie-pretboek: skep jou eie glinserwereld en Feetjiekookboek (H@R, 2005-09-19
Met aantreklike pienk omslae en nog silwer letters ook, sal klein dogterjties netnie hierdie uiters aantreklike aktiwiteits-boeke kan weerstaan nie! Feetjieboeke is maar dun gesaai, en elkeen sal hierdie twee boekies wil besit;want self kan hulle ‘n eie glinsterwereld skep en feetjies maak, skeonlappers, opwipfeetjies, ‘n Feetjietuin verf; ‘n Feepaleis maak, ens. 2 Bladsye met silwer sterretjies en hartjies en krone kan as versierings gebruik word..’n Lekkerte vir speel en leer. Biblioteke sal net bekommerd wees oor die 2 silwer blaaie! Maar ‘n pragtige boek. Die Feetjie-kookboek leer hulle om hartediefies te maak, Feetjie-fudge; Lekkerbekkies; Towersterre, Kabouterkolwyntjies, ens. Net die name maak ‘n mens sommer lus. Hoogs aanbeveel. Vir eie en biblioteek-versamelings.
Vir ouer kinders : 7- 13 plus:

Dahl, Roald Charlie en die sjokoladefabriek (H@R, 2005) Afrikaanse vertaling deur Kobus Geldenhuys

Hierdie publikasie val saam met die uitreiking van die film nou in ons land te sien. Behalwe dat Roald Dahl al meer as 30 jaar een van die gewildste skrywers vir kinders bly, sal die rolprent die minder getroue lesers ook na die boek laat soek. Johnny Depp is Willie Wonka, die misterieuse eienaar van die sjokoladefabriek. ‘n Lekker-lees boek vir ‘n wie oudedomsgroep. Jeugboeke 11- 15+
Bloemhof, Francois Nie vir kinders nie (Tafelberg, 2005)
Een van die twee goue medalje wenners in die Sanlam kompetisie vir Jeuglektuur 2005. Die tema was musiek, en die hoofkarakter Tim Marais val dus weg met ‘n sangles by tannie Tris, sy beste maat se ma en nogal verleidelik ook! Bloemhof skryf lekker , veral hier aan die begin, en die leser voel gou hy praat ‘n taal wat tieners sal verstaan. Tim is besig om groot te word, en hy is gewild, aantreklik en akademies sterk. Maar saam met grootword kom die vrae van ‘n ondersoekende gees; hy soek na meer… So ‘n gees is kwesbaar en miskien ook maklik beinvloedbaar. Met net die regte verkeerde omstandighede kan hy dalk op ‘n ander pad beland, veral aangespoor deur sy beste maat Ruan. Die een daad lei na die volgende , en mettertyd beland hy in ‘n situasie waar slegs ‘n oorwinning van gees sy omstandighede weer kan verander. Soos die verlore seun kom hy terug na hulle wie voorheen te gewoon was vir hom:”Hoe bly is ek nou, dat hulle sulke gewone mense is. Die soort wat gemaak is om ondanks alles te se:jy is ons kind.” Die boek het sy oomblikke, maar dit maak dit nie nie ‘n gebeurtenis nie. Nouja, wat om te se oor ‘n boek waarin die bekende “issues” al so herhaaldelik aangespreek is vir ons Suid-Afrikaans jeug? Moet hulle net lees van jongmense wat steel om dwelms te kan koop; hoer en rumoer?! , ‘n karakter wat so pynlik bewus is van homself ? Wat van ‘n volbloed storie vir tieners oor onderwerpe wat minder issue-gerig is? Soos ‘n heerlike avontuur; fantasie, ‘n boek wat hul sal bybly soos al die groot literere werke van die verlede, nie ‘n kortstondige gou vergete werk nie. En nogal ‘n goue medalje wenner ! Nouja. Miskien moet die skrywers ‘n slag lees wat internasionaal geskryf word vir tieners. Was dit Langenhoven wat gese het:”Die vlak water is troebel gemaak sodat jy nie moet sien hoe vlak dit werklik is nie” Wat beteken dit nou eintlik om te se om groot te word is nie vir kinders nie? En nogal op die agterblad van die boek as ‘n belangrike “statement”!
Viljoen, Fanie Breinbliksem ( Tafelberg, 2005)
Die tweede Goue pryswenner in die Sanlam kompetisie vir Jeuglektuur. Gelukkig het die skrywer sy boek begin met ‘n waarskuwing dat dit nie vir preutse puriteine; kinders wat nie daarvan hou om hul taal erg te vermeng nie, is nie. Dan word die dapperes uitgenooi om op die “ride” saam met hom te gaan , en dalk baie “fucked-up” anderkant uit te kom. Ek wil my nie te veel uitspreek oor 116 bladsye “ride” wat minus al die halwe wit lee bladsye seker nie by 116 sou uitgekom het nie. Myns insiens ‘n kortstondige “ride”, maar tog ambisieus en ‘n nuwe benadering tot tiener lektuur. Die pluspunte van die boek is die oorspronklike manier waarop Viljoen die musiektema aanwend: Elke hoofstuk is ‘n snit op ‘n cd- Track 1- 36 en dan die finale Hidden track, die einde. Ook die milieu van ‘n besoek aan die BreinBliksem-rockfees by Allemanskraaldam, waar die skokkende gebeurtenis plaasvind rondom Partygirl. Die ander lekkerte is die interessante verassings-element rondom die hoofkarakter; nogal baie slim gedoen. Hy praat die taal van tieners uit ‘n spesifieke agtergrond, die van die laaitie na wie hy verwys in die naskrif. Verseker is daar baie jongmense wat so is en so praat, en dit is ok; maar is die boek werklik literer so sterk dat dit ‘n goue medalje verdien? Defnitief ‘n nuwe stem, en ‘n sterk een ook, maar nouja. ‘n Boek wat defnitief in skole gebruik kan word deur Afrikaanse onderwysers as voorbeeld van ‘n goeie of slegte of gemiddelde jeugboek… debateer hieroor my broer.…!

Lona Gericke, Bellville Biblioteek September 2005..

No comments: