February 14, 2008

Kort resensies van Afrikaanse Kinderboeke, November 2006:

Vir jonger leserstjies:

Skrywer: Pippa Le Quesne. In Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo. Die reeks Blommefeetjie-maats met titels: Rosie se spesiale geheim; Zinnia se groot avontuur; Soetkersie se wens; en Laventel red die somerdans (H&R, 2006) R49,95 per titel.

Was daar al ooit sulke pragtige boekies! Die omslae is in sagte pastelkleure, en die mooiste feetjies omring deur silwer sterretjies skitter daarop. Dogtertjies gaan so bly wees; en daarby lees die stories wat so met ‘n sensitiewe ligte aanslag fyn vertaal is deur Daniel Hugo, tog te lekker. Ek was terug in my kinderjare toe Fiefie die norse feetjie my gunsteling storie was. Hoogs aanbeveel om kindertjies lief vir boeke en lees te maak.
Van Heerden, Marjorie : Die oorspronklike, ongewoon skrikaanjaende werklik feitelike storieboek ( H&R, 2006) R99,95 Illustrasies deur die skrywer.
Marjorie van Heerden doen in hierdie pragtige boek van haar beste illustrasies ooit! Elke verhaaltjie word aangevul met lewendige, kinder-vriendelike beweeglike en humoristiese llustrasies wat grootliks bydra om die verhaaltjies nog lekkerder te laat lees. So is daar die leeus in Agter mamma aan; die nessie vol eiers waar kleurvolle drade wol die kleintjies beskerm teen die honger kat; die gesin wat ‘n entjie gaan ry; die los tand; endie yslike vet vlieg. Hierdie bundel stories is uiters geskik vir voorlees en selflees; is baie welkom op biblioteekrakke; en die ideale geskenk vir klein kinders. Hoogs aanbeveel.
Nie-fiksie:

Stern, Sam Kook ‘n storm los (H&R, 2006) R165.00 Afrikaans deur Susan Samuel.

‘n Kookboek vir tieners, geskryf deur ‘n tiener. Hy is 15 jaar oud, en reeds ‘n bekende rubriekskrywer. Jamie Oliver noem dit “A cracking book…” Hierdie is ‘n uiters aantreklike boek , met afdelings wat gewy word aan ontbyte; middagetes; kos na skool ; wat om te kook as jy die meisies wil beindruk, of as jou vriende kom kuier; gesinskos vir die naweek; poedings, eksamen-oorlewingswenke; partytjie-kos; en dan ook witwarm wenke van Sam. Dit bevat ‘n indeks . Enige jong kok of onervare kok sal baat vind by die boek;ek hou veral van die fotos van jongmense en aksiefotos aan die kook, aan die eet; of sommer net ‘n bord klaar voorberei. ‘n Treffer. Vir biblioteke en tuis aankope. Goeie kersgeskenk!
Jacobs, Jaco Hoeveel tande het ‘n krokodil? (LAPA, 2006) R80.00
‘n Pragtige boek met interessante feite oor Suid-Afrikaanse reptiele en amfibiee. Behalwe dat bibliotekaresse tog te bly gaan wees waar die boek hul gaan help met skooltake, gaan veral die seuns dit so geniet! Reptiele fassineer hulle nou maar eenmaal. En hier is die feite interessant en die fotografie uit die boonste rakke. Veral oulik is die glibberige vraag wat orals voorkom, bv. Wat beteken die woord “reptiel”?; het alle akkedisse pote; watter geitjies kan blaf?; wat beteken die woord “likkewaan”;hoe oud kan ‘n bergskilpad word? En nog vele meer. Hoogs aanbeveel.
Meyer, Naomi Ruik jy die filmster? ( Tafelberg, 2006) R69,95
Toe ek die eerste bladsy , eerste hoofstuk begin lees en die vreeslike mengsel van Afrikaans en Engels kry, is my eerste gedagte: het ons nie al genoeg vermenging van die tale nie ? Maar toe lees ek die hoofkarakter woon nou in Ierland, en haar Pa kla ook oor al die deurmekaar-pratery! En geleidelik trek sy jou in die verhaal in, taal vermenging of te nie! Sy praat die taal van tieners; sy gesels met die leser; vertel interessant; die karakters leef en beleef , en waar ek self ook vir jare in ‘n ander land gewoon het, is dit so lekker om die twee werelde hier te beleef: Bloemfontein en Ierland. Hoe ervaar ‘n mens Suid-Afrika tans? Toe haar broer by die kafee in ‘n rooftog hom vasloop; hoor sy agterna van hom: Welkom in Suid Afrika.(Hy bly hier, sy in Ierland). Haar vertelstem is interessant, natuurlik, eietyds, aktueel; vol insig; sensitief. Naomi Meyer kan gerus nog skryf. ‘n Lekker-lees storie wat ek aan tieners gaan aanbeveel. Watch net julle taal! Swakhede is daar wel: miskien net te veel derms uitryg met ‘n bietjie te veel van dieselfde verwysings na die gesin se verhoudings; verval ook in te veel persoonlike gevoelens vertel oor politiek en Kerk.wat die verhaaltant minder spannend maak. Die gebruik van Engelse woorde soms geforseerd; werk nie altyd nie. Kon doen met meer “editing”. Haar ma se dagboek inskrywings lees nie altyd lekker nie; die Harold karakter nie te geloofbaar nie, maar tog ‘n interessante manier om te wys dat sy nou die “werklke “ lewe betree. Die romantiese element met Prmsyl kon beter ontwikkel word. . In die geheel ‘n baie belowende poging, en genoeg vleis om tieners te boei. .
Ahlers, Nerine en Steenkamp, Alet SMS’e & skurke & spinnekoppe(LAPA, 2006)
‘n Lekkerlees ligte boek vir jong tieners wat defnitief gewild gaan wees onder meisies. Die resep is in die kol: ‘n groep van vyf vriendinne in Graad Nege wat saam in die Hoer Meisieskool Bergrif se koshuis bly. Al die graadneges moet vir vier dae gaan kamp en praktiese werk doen. Daar is die gebruiklike mislike Onderwyseres; Juffrou Prinsloo , en die held Diaan met die blou op wie Lindie verlief is. In die bos is alles primitief, daar is nie eers ontvangs vir selfone nie! En die nare Juffrou Prinsloo gaan toe saam om hul lewens te versuur. En dan beleef 3 van die meisies die een avontuur na die ander…. Ligte leesstof. Gemaklike skryftrant. ‘n Gawe toevoeging tot ons Afrikaanse Jeugboeke.
Kulsen, Anzil Zita ( LAPA, 2006);
Hierdie verhaal handel oor ‘n jaar in die lewe van Zita, ‘n meisie uit ‘n arm kleurling gesin wat land in ‘n nuwe skool tussen ‘n klomp wit meisies; weg van haar geliefde Kieriekroek waar sy grootgeword het. Dit gaan om verhoudinge- tussen Zita en haar nuwe skoolmaats; tussen haar en haar ma; met Waldo op wie sy hier verlief raak, en dan ook die knellende herinneringe aan haar Pa; na wie sy lyk. Kompleet met sy “koelie” gevreet. Sy staan uit soos ‘n seer vinger, oral. Ek is besonder beïndruk met Kulsen se skryfstyl- Zita praat soos haar mense, maar haar gedagtes gebeur in suiwer Afrikaans. Hier word fyn geskryf, mooi atmosfeer word geskep. Die gevoelens is opreg; haar seer raak die leser, want dit is werklik en lê diep. Die skryfster het baie potensiaal; ek dink baie jongmense deel Zita se gevoelens oor hul omgewing; of wonder oor die Pa wat hulle nooit geken het nie; of raak verlief op iemand uit ‘n baie verskillende agtergrond; en wonder of hy/sy nie hulle sal los as hulle die familie ontmoet nie. Hoogs aanbeveel. Een van die beste jeugboeke van die jaar!

No comments: