February 14, 2008

Boekresensies Augustus 2007:

Preller, Martie Jy en Toetenkat ; Jy en Hercules; Jy en die Dinosourus ( LAPA, 2007) Illustrasies deur Alistair Ackermann.

Hierdie 3 titels “slegs vir dapper lesers” is heeltemaal iets nuuts in Afrikaans. UIters geskik vir seuns ,dalk traag om te lees, so 9-11 jaar. Die kind word genooi om op ‘n besondere avontuur te gaan: in antieke Egipte moet hy die ou raaisels oplos en die hiërogliewe ontsyfer; Hercules weer in Antieke Griekeland het moeilike take om te voltooi en die jong lesertjie kan hom dalk daarmee help; en by die dinosourusse moet jy jouself verdedig teen die gevaarlike tirannosourus. Ek is vreeslik ingenome met hierdie aanbiedinge: Die illustreerder het d.m.v. die rekenaar ‘n heerlike kinder-avontuurbelaaide wêreld geskep; eietyds en uiters toeganklik. Hoogs aanbeveel vir jong lesers.
Vir die kleintjies:

Prenteboeke:

Otto se groot woordeboek, deur Eric Hill ( H&R, 2007)

Otto bly nou maar een van die gewildste prenteboek karakters vir klein kindertjies. En wat ‘n slim manier om hulle woorde te leer as Otto aan die woord is! In die kombuis, op die plaas; in die skool; op die strand; by die huis; by ‘n partytjie; en in die slaapkamer. Pragtige boek. ‘n Aanwins vir biblioteke en versamelings tuis.
Bangkat en Boe, deur Michael Broad ( H&R, 2007) Vertaal in Afrikaans deur Charlotte Rademeyer.
Absoluut my gunsteling prenteboek van die afgelope tyd! Bangkat is vreeslik bang-vir alles. Dan nooi ‘n klein muisie Boe hom om buite te gaan speel. Maar Bangkat is oortuig daar is ‘n monster buite. Maar Boe verduidelik dat dit net ‘n pragtige boom is. As Bangkat dit dan buite waag, skrik hy vir ‘n skoenlapper, ‘n voël , maar uiteindelik oorwin hy al sy vrese en speel tog te lekker saam met Boe in die tuin. HIerdie wonderlike boek leer kinders om hul vrese te oorwin op ‘n avontuurlike en prettige manier. Die hele aanbieding is goed gebalenseerd; en die illustrasies is so mooi dat ‘n mens van lekkerte kan sing! Vir elke huis en biblioteek.
Stefan die ruimteridder , deur Timothy Knapman; illustrasies deur Adam Stower( H&R, 2007) In Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys.
Jong lesertjies het met Stefan kennis gemaak in sy avontuur met die prenteboekseerowers, en nou is hy op ‘n opwindende ruimte-avontuur. Majoor Melkweg en die heelal moet gered word…duer die jongste lid ooit van die Ster- Eskader. ‘n Lekker boek vir seuns! Lewendig, vol aksie en interessante karakters. ‘n Goeie resep om die kind in beheer van die gebeure te plaas- met die lees van ‘n storie beweeg hyself in die fantasie-wëreld in.
Mooiste Salma, deur Niki Daly ( Tafelberg, 2007) In Afrikaans vertaal deur Louise Steyn. Ook beskikbaar in Engels, isiXhosa en isiZulu.
Mooiste Salma word in hierdie waarskuwende storie geleer om nooit met vreemdelinge te praat nie; want dit kan ly tot ‘n reeks nare gebeure; soos om jou klere en krale en sandale te verloor en ‘n hond wat gladnie kan sing nie , te probeer leer sing! Om nie te praat van jou Ouma wat so lief is vir jou, se lewe in gevaar te stel nie. Ek persoonlik is nie mal oor die tipe illustrasies nie- baie wit spasies op die bladsye wat ‘n amper koue atmosfeer skep. Maar Niki Daly se liefde vir musiek en dans word weer uitgebeeld; karaktertjies wat dans en sing maak die aanbieding meer lewendig. Sal moet sien hoe kinders op die boek reageer. Teks in Afrikaans hinder my hier en daar- amper ‘n volwasse aanslag; en ek hou nie van die hoender se “mallerige oë” nie! ; ook geforseerd plek-plek. Die Ouma bv. oortuig nie as sy die kind vra om mark toe te gaan vir “jou Ouma wat so lief is vir jou nie!”Dalk sal dit werk as ‘n voorlees-storie. Dit gaan hier nie om werklike gevoelens nie, maar uitsluitlik om kinders te vermaak.
Heruitgawes:

Trompie die leier, Trompie die hled; Trompie die mooi seun deur Topsy Smith (H&R, 2007) en Saartjie se skatte; Saartjie se kleik; Saartjie se geveg ( H&R, 2007) Redigeerders Kobus Geldenhuys en Adri Breed.

Ons jong lesertjies is baie opgewonde oor hierdie keurig versorgde heruitgawes van twee karakters wat die toets van die tyd deurstaan het: Saartjie en Trompie. Die taal is aangepas by ‘n moderne leser, en die verruklike omslae, veral vir die Saartjie-boeke, dra daartoe by om kinders weereens te prikkel om die stories te lees.
Winnie-die Pooh, deur A.A.Milne (Tafelberg, 2007) Afrikaans deur Alba Bouwer. Eerste Afrikaans uitgawe verskyn in 1985.
Die pragtige nuwe omslagontwerp is deur Teresa Williams. Hierdie is een van daardie klassieke werke wat ons vertroetel en vir ‘n nuwe geslag kinders in Suid Afrika toeganklik wil maak. Winnie bly maar altyd ‘n liefling-beer; en dankie aan die uitgewers wat dit moontlik maak met ‘n heruitgawe.
‘n Koning genaamd Leeu; deur Pieter W. Grobbelaar ( H&R, 2007) Eerste uitgawe in sagteband van die 1983 boek.
Hierdie mooi groep 25 leesbare Afrikaanse dierestories word in een bundel aangebied. Die boek hoort tuis in elke versameling van Afrikaanse oustories; sodat kinders altyd toegang tot fabels sal hê. Die formaat werk meer modern met die wit agtergrond, en gekleurde diere op die wit buiteblad. Die titel in rooi letters omring deur die blou raampie, trek makliker die aandag as die vorige roomkleurige omslag met die titel in bruin letters. Maar ouers sal die boek aan kinders moet bekend stel; hulle sal dit nie self maklik optel om te lees met hierdie voorkoms nie.
Nuwe kinder- en jeug boeke:

Slym en die Gogga-sirkus, deur Fanie Viljoen ( LAPA, 2007)

Ek was gaande oor die eerste Slym-storie; en nou is Slym die wurmpie in die skool saam met paddas. Sy beste vriend is Paddavoet, en sy juffrou Plat Anna. Hierdie storie gaan oor ‘n gogga-sirkus. Slym en Paddavoet is tog te opgewonde oor die gogga-sirkus, maar voor hulle te lekker kuier rokkel Knopie die spinnekop hulle weg; kamstig na die Grammadoela-bos, maar eintlik na die Dooie Paddapoel waar ‘n kis vol goue pitte op die bodem van die poel uitgehaal moet word. En nou is Bakvissie ook in Knopie se mag. Fanie Viljoen kan ‘n storie vertel! Kleintjies so tussen 7-9jaar sal tog te lekker lees aan hierdie avontuur van Slym en sy maat. Hoogs aanbeveel.
Alicia en die Zitzappers, deur Nelia Engelbrecht(H&R, 2007) Illustrasies deur Karl Stephan.
‘n Vermaaklike ligte verhaal waarin al die graadsewes wat die speletjies-arkade in die Mall gereeld besoek , nare zitse op hul gesigte ontwikkel. Alicia en Hanno raak agterdogtig toe hulle die seun van die apteker wat die Ac-be-gone salf verkoop wat die zitse gesond dokter, hoor gesels met ‘n man oor die bakteriee wat hul in die arkade versprei. Alicia besef dit is hul manier om maklik geld te maak uit die niksvermoedende graadsewes. Gemakllike skryftrant; lees lekker ; ligte leesstof vir 9-11 jariges. Word aanbeveel.

No comments: