February 14, 2008

Kort resensies van Afrikaanse Kinderboeke Maart 2007:

Daar verskyn gereeld nog heruitgawes van hierdie gunsteling boeke, met byderwetse , vrolike nuwe omslae wat kinders se aandag sal trek:

Smith, Topsy Trompie die speurder (H&R, 2007) en Smith, Topsy Trompie die dromer (H&R, 2007) Naude, Bettie Saartjie se nuwe maat ( H&R, 2007) Naude, Bettie Saartjie se slim plan (H&R, 2007) Donaldson, Julia Is daar plek op jou besem? H&R, 2002) Tweede druk 2006.

Hierdie is ‘n gewilde prenteboek vo humor, en ek is dankvader bly oor die tweede druk, waar baie van die gewilde Afrikaanse prenteboeke nie meer beskikbaar is nie, veral ook sommige van die uitstekende vertaalde prenteboeke.
Dan moet ons nie vergeet van al die Tintin(In Afrikaans Kuifie) boeke wat H&R in 2006 in Afrikaans uitgegee het nie:
Bestemming maan, In die land van die swart goud, en Verkenners op die maan. Hierdie bly altyd gewild by kinders en word verwelkom!
Vir die musiekliefhebbers is daar ‘n verwerking van Philip de Vos se Trazom wat in 1992 gepubliseer is. Die titel is Tot siens Tommasino ( H&R, 2007)
Hierdie is die verhaal van die vriendskap tussen Thomas Linley en Wolfgang Amadeus Mozart, teen die agtergrond van die kultuurskatte van Europa. Die nuwe uitgawe het ‘n interessante roomkleurige omslag , en bevat ook 2 bladsye woordverklarings.
Nuwe prenteboeke:

Maartens, Wendy ‘n Ster met strepe (LAPA, 2006) Ook in Engels beskikbaar as A star with stripes.

‘n Eg Suid Afrikaanse verhaal van die seun Benjamin en sy oom Adam-‘n blinde vioolspeler. Benjamin se droom is om eendag viool te kan speel soos sy oom, en hy leer vlytig. Wanneer sy oom met Ant Sofia trou, speel hy die lied van die rooi rok op die troue, en nou is hy nie meer Menjamin met die bekfluitjie nie. “Hy is nou ‘n ster. ‘n Ster met strepe.” Want ant Sofia het vir hom ‘n trui met strepe gebrei, netsoos die wit pakke met sebrastrepe op van die vier mans wat hy op die televisie gesien viool speel het. Die karakters is gewone mense-blommeverkopers en pensioenarisse; met klein inkomstes maar met groot drome en liefde vir mekaar. Die verhaal oortuig so sonder pretensies. Of dit nou werklik in kinders se smaak gaan val , weet ek nie. Anna-Carien Goosen is die illustreerder, en sy skets die menslikheid van die karakters oortuigend, maar soms is die bladsye te besig en vol. Vir voorlees of selflees; 3-7jaar.
Vir jonger lesers :

Hartmann, Wendy Dolfynedag (H&R, 2007) Afrikaans deur Simone Hough, met illustrasies deur Robert Foote.

‘n Lekker-leesstorie vir 9-11jariges . Jenna en haar broer Daniel is oortuig daarvan dat die tunaboot by Seemeeurots daar is om dolfyne in ‘n net vas te keer , hulle dood te maak vir geld. Oom Sollie stem saam, maar hy en sy manne tree nie vinnig genoeg op na Jenna se sin nie, en sy probeer meisie alleen om hulle te stuit. Daniel is nog bang vir die see na sy nare ondervinding met ‘n haai. ‘n Boeiende avontuur/spannings verhaal met lekker groot druk vir minder ervare lesers. Net jammer dat die boek so uiters onaantreklik aangebied word, met ‘n “dated” omslag en swart-en wit illustrasies soms goed, andersins baie lelik- bladsy 31, 33,38-39.
Nie-fiksie:

Die Loergaatjie-reeks : Bome, Plante, Water, en Voëls (H&R, 2007). Arden, Penelope. Afrikaans deur Daniel Hugo.

Hierdie vier kleurvolle boeke sal met waardering ontvang word deur jong lesers. Hulle kan op ‘n interessante en toeganklike wyse inligting bekom, en uitvind nie-fiksie kan boeiend wees! Jou aandag word dadelik getrek deur die sterk helderkleurige omslae; en die tegniek om d.m.v. flappies verdere inligting met die uitgevoude bladsye te bekom, werk goed met die nuuskierige jong kind. Die boeke is goed versorg, die inligting interessant aangebied. Hoogs aanbeveel.
Wessels, Tiaan Net vir ouens ( LAPA, 2006)
Tiener seuns behoort hierdie byderwetse aanbieding baie nuttig te vind! Hulle kan alles uitvind omtrent puberteit- hulle nuwe lyf; van meisies –liefde, die eerste date en perfekte soen; hoe om hulle self te versorg, en ten slotte 10 redes waarom ouens meer pret het! Ek hou van die ligte aanslag, die humor en dan ook die magdom nuttige inligting, veral die gedeelte oor dwelms en wat hulle doen. Die bronnelys sluit in 10 webwerwe.‘n Boek vir elke biblioteek en huis.
Lona Gericke

No comments: