February 14, 2008

Kort besprekings van Afrikaanse Kinderboeke 23nov:

Prenteboeke:

Lena se bottelboom, deur Wendy Maartens, met illustrasies deur Anna-Carien Goosen (LAPA, 2005) R59,95. Ook in Engels beskikbaar.

‘n Mooi atmosferiese verhaaltjie van die dogtertjie Lena wat saam met haar Oupa , Ouma , ‘n gemmerkat, ‘n hoenderhaan en vier wit henne in ‘n geel huis met ‘n groot vyeboom woon. Haar gunsteling speelplek is bydie vyeboom. Wanneer sy hartseer is , sit sy met haar wang teen sy koel stam, en dan hoor sy haar ma se stem. Haar ma is dood, en sy maak musiek met haar bottels en twee lepels as sy na Mamma verlang. Die vyeboom kry nuwe betekenis met Kersfees wanneer sy dit met die bottels versier; ook die parfuum botteltjie wat aan haar ma behoort het. Gevoelvolle, mooi uitbeelding van die gevoelens en verlange van die kind, maar ook die liefde van ‘n Oupa en Ouma wat haar ondersteun. ‘n Ideale verhaaltjie vir troos en bemoediging. 6-9jaar.
Sneeuwitjie en ander prinsesstories,deur Gretel Wybenga (LAPA, 2005) R99,95
‘n Klassieke versameling van 12 verhale oor prinsesse, insluitende bekendes soos Sneeuwitjie, Paddaprins, Doringrosie, Die prinses en die ertjie; en minder bekendes soos Kaatjie Kraakneut en Koning Bokbaard. Stories oor prinsessies is altyd gewild, veral by die meisies, en die hele aanbieding is keurig versorg. Die illustrasies verdien spesiale vermelding: baie moeite is gedoen om die boek aantreklik te maak met geillustreerde rande op elke bladsy wat inpas by die verhaal,bv. pampoene by die pampoenprinses en bloedrooi rosies by Doringrosie. Veral die klein illustrasies van ‘n sleutel of eierkelkie, ‘n voeltjie en neute is besonder fyn en realisties gedoen. Hierdie illustrasies bied kinders soveel meer om na te kyk en te geniet. Die gesigte deurgaans trek my nie aan nie, maar hier en daar “werk” hulle tog.. In die geheel ‘n baie pragtige boek.
Die avonture van Lula, die koei wat anders was, deur Sophie Jaff, geillustreer deur Petra Gevers ( H@R, 2005) R79,95.
Lula hou nie van gewone koei-dinge nie, sy hou van sing: as sy gemelk word,in die veld, en in die stal saans. Dit maak die ander diere mal, almal behalwe Hendrik Haan. Hy berei haar voor vir New York. Lulu oefen en oefen, totdat sy gereed is vir die kompetisie in die groot stad. Rajim , die kakkerlak word daar haar bondgenoot. ‘n Lawwe storie oor ambisie,drome en vriendskap, met snaakse woordspeling. Heeltemaal vermaaklik.
Ons soek sterte! , deur Ann Walton; geilustreer deur Tamsin Hinrichsen (Tafelberg, 2005). Ook in Engels beskikbaar. Afrikaans deur Linda Rode.
Net in stories het Olifant, Eland en Skilpad behoefte aan sterte waarmee Koedoe hulle moet help. Koedoe belowe dat dit geen probleem is om hulle te help nie, hulle moet net die towerwoord “Omumborumbonga “ onthou by ontvangs. Gaan hulle dit regkry? ‘n Fyn vertaalde storie in Afrikaans; ek het dit reeds uitgetoets op kleuters en hulle het heerlik gelag vir my gesukkel om die towerwoord self te onthou! Lekker boek vir voorlees en selflees. Keurige versorgde boek met aantreklike illustrasies.
Hou vas, Seekoei,deur Vian Oelofsen (H&R, 2005) R69,95
Hanna en haar Pa gaan strand toe, en haar geliefde opblaas seekoei moet saam. Toe haar Pa seekoei ‘n bietjie wil opblaas, kry die wind Seekoei beet en Hanna hardloop agterna om seekoei te vang. ‘n Eenvoudige storietjie met ‘n dun storielyn , hoewel die situasie geloofbaar is. ‘n Kind sal van alles vergeet en net daarop konsentreer om ‘n geliefde speelgoedmaatjie terug te kry. Oelofsen se beweeglike illustrasies dra die storie.
Mia se ma,deur Marita vd Vyver, met illustrasies deur Piet Grobler (H&R, 2005)R79,95
Mia is die allerfraaiste hasie met die slimste, talentvolste ma in die hele wereld. Alles kan sy , volgens Mia beter doen as haar maatjies Hakima, Leon , Selo, Bella en Mark se ma’s. Hulle begin selfs skrikkerig voel oor die tannie wat klink soos ‘n heks met bonatuurlike vermoens! Op Mia se verjaarsdagpartytjie neem dit baie verduideliking en oorreeding van haar ma voordat die kinders kans sien om van haar verjaarsdagkoek te eet. ‘n Baie slim manier om kinders op ‘n subtiele manier te herinner aan die mag en betowering van feeverhale. Piet Grobler doen hier van sy mees kind-vriendelike illustrasies; verbeeldingryk, prettig, al te mooi. Hoogs aanbeveel. Wye ouderdomsgroep; peuters sal die prentjies geniet, en kleuters sal identifiseer met die gedagte dat my ma net die beste ma in die hele wereld is!

No comments: