February 14, 2008

KORT RESENSIES VAN AFRIKAANSE KINDERBOEKE April 2006:

Prenteboeke: Die avonture van Wilde Willemientjie, deur Riana Scheepers; illustrasies deur Vian Oelofsen( Tafelberg, 2006) R79,95

Dat hierdie prenteboek ongetwyfeld ‘n uiters geskikte musikale kindersversdrama op die verhoog sal wees, betwyfel ek gladnie. Of dit werk as ‘n prenteboek; hieroor het ek wel my bedenkings. Die teks is lewendig, humoristies en Riana Scheepers rym met groot gemak en vernuf. Wilde Willemienjie is voorwaar ‘n dierbare klein waaghals, en sy behoort in oud en jonk se harte te kruip. Weet net dat ouers maar sal moet voorlees; en ouer kinders weer sal verby die gevoel van ‘n boek vir klein kindertjies moet reik na ‘n teks wat hulle ook kan geniet. Vian Oelofsen handhaaf die werk van hoë gehalte waaraan mens gewoond geraak het. Die illustrasies is net so snaaks en lewendig en uitbundig soos die teks; en het defnitief baie “child appeal”. Hy word net al beter en beter! Vir alle ouderdomme; veral hulle wat jonk van gees bly.
Die soen wat verdwaal het, deur David Melling(LAPA, 2005) R59,95 Uit die Engels vertaal deur Lydia du Plessis.Engelse titel: The kiss that missed.
Die koning is oorhaastig, en die nagsoentjie wat hy vir sy seuntjie blaas vlieg woerts by die venster uit… Die koning se heel dapperste ridder moet die soentjie agterna sit. Dit is die begin van ‘n bangmaak-avontuur vir hom- gaan hy dapper genoeg wees?! ‘n Ligte vermaaklike storietjie met min pit, maar tog lig en vrolik en kinders sal lekker vermaak word, veral wanneer die knobbelrige boomstomp toe nie ‘n boomstomp is waarop hy gaan sit om asem te skep nie! Ek hou van die illustrasies, en die lekker groot druk; altyd welkom as dit by kleuters se boeke kom. 3-7jariges.
My saamsleep-dieretrein ( H&R, 2006) R69,95 In Afrikaans vertaal deur Philip de Vos en Wanda Muller
Op die oog af ‘n uiters aantreklike karton saamsleep dieretreintjie met drie kompartemente: Hannes Hond se wonderlike trein; ‘n Oerwoudavontuur; en Pret op die plaas. Maar ek kry die ma’s jammer wat die stukke uitmekaar sal moet haal; en dan weer moet sorg dat die trein terug in sy saamdra dosie gebere is! Verder gaan die treintjie nie lank hou met die uiters kwesbare rugkant nie. Nie biblioteekmateriaal nie , en ek dink regtig ma’s kan hulle geld beter spandeer .
My blommefeetjies-bababoek, deur Cicely Mary Barker ( H&R, 2006) R110 In Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo.
Die bababoek wat elke baba graag sal wil hê- om te vertroetel tot hul groot is. Pragtige keurig versorgde aanbieding; en so mooi dat ‘n mens wêns jy kon weer klein wees om so iets moois te kan besit. Vir ma’s wat ‘n baie mooi bababoek as n geskenk of vir hul eie kleinding wil koop. Hoogs aanbeveel.
Nie-fiksie:

My eerste kookboek, deur Annabel Karmel ( H&R, 2006) R110. In Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys.

‘n Kookboek wat elke kind behoort te hê; en elke bibllioteek in voorraad moet neem. Die kind word toeganklik aangespreek met resepte vir roereiers, pannekoek; slurpspaghetti; dierekoekies, konfythartjies en nog vele meer. Met werklike foto’s word stap vir stap verduidelik hoe om die geregte voor te berei. En kindertjies is self aan die werk, met groot glimlagte, want dit is tog te lekker! Hoogs aanbeveel.
Kinderboek en Jeugboeke:

Heruitgawes word verwelkom van die volgende titels:

Reekse:

Reënboogrant Maats Snyman, Maritha ‘n Nag van Angs(LAPA, 2006) R49,95 en Snyman, Maritha Die balletkonsert(LAPA<>

Reënboogrant Tieners : Van Niekerk, Louise Drome en dramas en Raves en rugstekers (LAPA, 2006) R 49, 95:

Roux-de Jager, Lien Monsterduiwe , ‘n ruimtefantasieverhaal word heruitgegee, vergesel van 2 nuwe titels in haar ruimtetrilogie: Woestynvuur en Doemprofeet(LAPA, 2006) R59,95 elk.

Pieterse, Pieter Silwer jakkals van die Namib (Best books, 2006) R42,95 Orrspronklik uitgegee in 1990.

Grobbelaar, Pieter W Wensfontein (H&R, 2005) R69,95 in sagteband. Hierdie bundel sprokies het oorspronklik in 1986 verskyn, en bly gewild onder kinders. Vermaaklik en lekker leesstof. Blakemore, Stella Jongspan op Maasdorp en Niggies op Maasdorp ( H&R, 2006) R62,95

Drie nuwe verhale verskyn ook :

Nagmerrie.net(Thomas@- reeks) deur Carina Diedericks-Hugo (LAPA, 2005) R49,95

Hierdie reeks deur Carina Diedericks-Hugo is tans van die gewildste reeks in biblioteke se voorraad, en seker ook tuisbesit vir baie van haar bewonderaars! Daar is ‘n nuwe meisie by die Hoërskool Leeukop in Thomas-hulle se klas. Sy is die sepiester Fleur Vermaak. Met haar verskyning gebeur vreemde dinge in die lewens van hierdie graadneges. Lees maar self om uit te vind.
Viljoen, Fanie Geraamtes in die klas(H&R, 2006) R79,95.
Stephan en sy beste maat Kobus is die 2 stoutste seuns in Laerskool Laagkruin. En Juffrou Beneke die kwaaiste juffrou in die skool; ‘n ysblok van ‘n mens. Wanneer ‘n wetenskap eksperiment van die 2 seuns verkeerd loop, land Juffrou Beneke op die geraamte in die klas en verander self in een! Hoe gaan die klomp kinders nou op toer gaan, vergesel van ‘n juffrou Geraamte? Maar in haar nuwe gedaante is Juffrou Beneke ‘n ander mens-hulle het die heerlikste avonture, en sy wen selfs ‘n motorfiets vir hulle, en die lekkerste ding ooit is om die vaal skoolbus in ‘n nuwe gedaante te klee; en dan nog te sien hoe ‘n seekat amper hulle Juffrou vir altyd laat verwyn… Fanie Viljoen was seker soos een van hierdie twee seuns op skool: onnutsig, lewendig, ‘n grapmaker van formaat. ‘n Heerlike storie vir jong lesers so tussen 9-12 jaar; vol aksie , humor en lekker verrassings. Hoogs aanbeveel. Die illustrasies is gedoen deur Karl Stephan; en werk lekker saam met die teks. Net jammer oor die hinderlike handskoene op bls. 24; die minder geslaagde illustrasie op bls. 26-27; die tasse op bls. 32; en die laaste illustrasie op bladsy 104. So onnodig om iets op ‘n bladsy te sit wat net afbreuk aan die geheel doen! Maar die res wys hope talent en vul die verhaal goed aan.
Brandt, Marianna Die avonture van Magrietjie Swaaiboude (H&R, 2006) R89,95 Illustrasies deur Tanja Joubert.
Hierdie storie is gebaseer op die ware verhaal van Phillip Kotze, ‘n hemipleeg; en sy labrador, Magrietjie Swaaiboude wat sedert 1992 saam met hom een van George se grootste toerisme aantreklikhede geword het. Die skryfster vertel op ‘n eenvoudige maar uiters leesbare wyse hul verhaal. Na die kokketiel Samuel se dood, kom Blondie in sy plek, alhoewel Magrietjie aanvanklik niks wou weet van die arrogante Blondie nie!. Jong lesers sal geniet om saam met hulle deur George se strate te beweeg, en daaglikse ondervindinge te deel soos as hulle blomme aflewer in die hospitaal; op die plaas gaan kuier; verjaarsdag hou; die soektog as Samuel in die bioskoop wegraak; ‘n besoek aan die dierewinkel en nog baie ander vermaaklike gebeure. Tanja Joubert laat die illustrasies uitstekend werk saam met die teks. Sy openbaar ‘n fyn aanvoeling vir humoristiese situasies; gee interessante detail; teken mooi as hulle hartseer is, en dra daartoe by dat ‘n keurig versorgde boek die jong lesers veel plesier sal verskaf.
Lona Gericke. April 2006

No comments: