February 14, 2008

Boekbespreking:

Venter, Rudi Terugkeer (H&R, 2007)

Rudi Venter verras hier met sy eerste jeugroman; en veral verblydend is die feit dat die hoofkarakters seuns is! Hierdie is ‘n lekker-lees spanningsverhaal; vol aksie en interessante wendings. ‘n Onskuldige fietstoer van vier vriende verander sommer van bladsy een af in ‘n asem-ophou storie wanneer Stephan, Anton en Gerhard agterkom Henk is nie by hulle nie. Dan beland Stephan by ‘n snaakse man wat hom oplaai na n plaas; terwyl Anton en Gerhard op die dorpie Terugkeer, probeer skuiling soek teen die dreigende storm. Die verhaal ontwikkel verder met beide groepe in gevaar, want hierdie is ‘n uiters onverdraagsame gemeenskap! Veral as jy verwar word met ‘n prokureur wat gladnie meer welkom is op Terugkeer nie! Ek het die verhaal sommer baie geniet. ‘n Sterk spanningslyn word gehandhaaf; Venter skryf gemaklik en praat die taal van die jongmense; jy kan eenvoudig nie die boek neersit tot die finale ontknoping van die verhaal nie. Hoogs aanbeveel; vir jong tieners. Skryf gerus nog meer!
Suurlemoen, deur Jaco Jacobs (LAPA, 2007)
Wow! Wat ‘n heerlike verassing is hierdie jeugverhaal nie! Die skrywer sit nie ‘n voet verkeerd met hierdie vermaaklike verhaal oor vier jongmense wat ‘n rock band Surlemoen begin nie. Dit begin met ‘n idee, en ontwikkel tot ‘n volwaardige verhaal wat enduit boei. Ek is mal oor die manier waarop die boek saamgestel is: notas, idees gekrap op Post-it-plakkers; foto’s van die groep; en veral Tiaan se notas aan homself dra net by om die verhaal meer toeganklik te maak. Die storie leef; is energiek, snaaks, en daarby kom die toets vir Tiaan en Zane se vriendskap: wat om te doen as julle van dieselfde meisie hou! Hierdie is regtig een van die aangenaamste boek-verassings wat ek gehad het. Sal defnitief geniet word deur jongmense; en ‘n lekker boek om onwillige lesers mee te lok wat nie van stories hou nie. Hoogs aanbeveel.
Toko, deur Leon de Villiers( LAPA, 2007)
Lesers wat van skop-skiet en donderweer Afrika-styl hou sal ongetwyfeld hierdie boek geniet. Dit gaan om Afrika tradisies; aanvaarding van ‘n jongman wat “anders” is en nie aanvaar word deur die “jong leeus” van die stam nie., want hy skep beelde uit hout;en vir sy mense is dit ‘n vloek om ‘n beeld van hulle te maak.. Hy moet doodgemaak word. Erg melodramaties, en behoort goed as ‘n toneelstuk te werk; maar ek kon nie betrokke raak by die algemene histerie van die karakters nie. Onoortuigend vir my, maar daar sal sekerlik lesers wees vir so ‘n verhaal. Pragtige treffende omslag
Klitskronkel en die vlammende swaard, deur Fanie Viljoen( Tafelberg, 2007)
Jonger lesers 9-12 jaar en ouer sal hierdie vermaaklike speurverhaal baie geniet. Speurder Klits Kronkel is die oulikste kordaatste speurder, kompleet met ‘n kat Japtrap, n bekwame assistant juffrou Splinter wat tog te goed na hom kyk, en met ‘n tegniese kenner Blitz Vinnig se hulp is hy oorgehaal vir enige speurder-gebeure. As dit dan gaan om ‘n kasteel en sy eienaar Nerf Edelsteen waaruit die waardevolle Saffierswaardvanger gesteel is, word sy hulp ingeroep deur Nerf. Maar dinge is nie te pluis nie; Nerf se broer Troebel lyk ook baie verdag; en dan het hul broer Raaf op onverklaarbare wyse gesterf, of het hy?! By al die intriges word die leser vermaak met die eienaardige gedrag van fantasie-karakters soos die reus Pekel, Marionetta; Pik Steel; en dalk nog ‘n draak ook! En ons speurder is juis lus om met ‘n draak te baklei. Lekker woordspeling; verassende karakters en “objects” boei, soos ‘n volstruis as rytuig; en die groen slang as landingstuig, en ‘n tas met vinne. Interessante wegsteekplekke word geskep vir die swaardvangers en die Diamantswaard wat die waarheid altyd laat seevier, en die geheel getuig van die skrywer se uiters vrugbare verbeelding. Dit is ook lekker as hy die fantasie kombineer met alledaagse gedagtes en reaksies en emosies; soos Klits wat nie kan glo sy boepmagie lyk so sleg op die muurskildery nie! Voortdurende aksie word gekombineer met fyn humor om jong lesers te vermaak. Diek Grobler se illustrasies is interessant en vul die teks goed aan. ‘n Lekker-lees boek. Hierdie skrywer lewer voortdurend goeie werk, en on sien alreeds uit na sy volgende boek! Hoogs aanbeveel.
Prenteboek:

Leander en Louise, deur Ann Walton; met ilustrasies deur Marna Hattingh(Tafelberg, 2007) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Met Louise se verjaarsdagpartytjie val sy per ongeluk op haar hondjie Leander, en hy byt haar. Nou noem almal hom ‘n stout hond, en sy hartjie is gebreek. Maar hy is nie ‘n dom hondjjie nie; daar is ‘n manier om Louise se hart weer sag te maak! ‘n Eenvoudige verhaal met ‘n mooi boodskap. Lekker groot gedruk is die teks, en die min woorde word goed aangevul met volblad illustrasies wat help om die verhaaltjie te vertel. Vir 2-6jariges; voorlees of selflees.
Kartonboekies:

Otto se speelkis; Otto in die tuin; en Otto kyk na teenoorgesteldes; Otto by die huis , deur Eric Hill (Human & Rousseau, 2007)

Hierdie bly maar van die gewildste boeke vir peuters en kleuters; Otto het die wonderlike gawe om hul harte altyd te verbly. Goeie toevoeging tot versamelings vir babas en kleuters.
Heruitgawes van die volgende boeke:

Huppel en sy maats, deur W.O.Kuhne (Tafelberg, 2007) Rivierplaas, deur Alba Bouwer , met illustrasies deur Katrine Harries(Tafelberg, 2007) Saartjie se held en Saartjie se papegaai, deur Bettie Naude( Human & Rousseau, 2007)

Trompie die kragman, en Trompie die hartedief , deur Topsy Smith (Human & Rousseau, 2007) Gedaantes en geraamtes-omnibus 1, deur Louise Prinsloo ( Human & Rousseau, 2007)

Hierdie mooi klompie heruitgawes het geen bekendstelling nodig nie! Die uitgewers word gekomplimenteer met die aantreklike buiteblaaie wat sommer nuwe lewe aan ou gunstelinge gee. Alba Bouwer se Rivierplaas-stories is een van die klassieke werke in die Afrikaanse Jeuglektuur, en hierdie omnibus word verwelkom. Netso het Kuhne se Huppel en sy maats nog nooit sy gehoor verloor nie; en dit is noodsaaklik dat hierdie ou gunstelinge behoue bly vir die nuwe geslag Suid-Afrikaners. Dankie aan die uitgewers hiervoor.

No comments: