February 14, 2008

Kort resensies van Afrikaanse Kinder en Jeugboeke September 2006:

Prenteboeke:

Knapman, Timothy Stefan en die prenteboek-seerowers, met illustrasies deur Adam Stower. In Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys (H&R, 2006) R69,95

‘n Prenteboek spesiaal vir die seuns; al die dapper avontuurlustige mensies wat self droom van so’n opwindende avontuur met seerowers. Stefan is mal oor hierdie boek, en sy ma moet die storie oor en oor vir hom lees; maar dinge kry ‘n anderse kinkel as die goeie Kapein Ignatius Vloot besluit om met vakansie te gaan in Stefan se See-boek, en Stefan self moet inspring om die kordate kajuitmeisie Katryn te red van die nare Ben Bitterbek. ‘n Gemiddelde aanbieding; maar sal wel deur seuns geniet word. Vir my is die storie maar vlou; en half deurmekaar, en die illustrasies sou beter tot hul reg kom op glanspapier.
Hill, Eric Otto se pretjaar (H&R, 2006) R74,95
‘n Uiters gewilde skrywer en die geliefde Otto karakter word in Afrikaans vertaal. Die boekie bevat twee lig-die-flappie stories, Otto gaan skool toe en Otto hou vakansie. Hierdie Otto-stories bly seker van die gewildste boekies vir kleuters en peuters, en ek is baie dankbaar oor die vertaling . Hoogs aanbeveel.
Donaldson, Julia Die Goorgomgaaitjie ( H&R, 2006) IN Afrikaans vertaal deur Philip de Vos, en illustrasies deur Axel Scheffler. R69,95
‘n Lieflike titel vir die opvolg van die baie gewilde Goorgomgaai. Nou is daar ‘n klein meisie Goorgomgaaitie, en sy dwing net om bos toe te loop. Haar pa waarsku haar dis gevaarlik, want die aaklikge monster muis woon daar. Maar sy bsluit tog om hom te gaan soek; en die slim muis maak haar skrik met sy reuse skaduwee. ‘n Genotvolle boekie vol pret en aksie. De Vos se vertaling is in die kol; hy weet darem net hoe! Hoog aanbeveel.
Magona, Sindiwe Die heel, heel lekkerste kos!, met illustrasies deur Paddy Bouma( Tafelberg, 2006) R 79,95 Afrikaans deur Francois Smith.
‘n Verhaal van ‘n gesin . Siziwe die oudste dogter moet sorg vir haar broers en susters , want haar ma is land toe, en Tata is op die see uit. Die koskas is leeg, en sy moet ‘n plan beraam om die klomp honger kinders tevrede bed toe te stuur. So kook sy die heel lekkerste kos vir hulle almal- ‘n pot met water wat sy roer en roer tot al die kleintjies slaap. Die volgende oggend bring haar ma se beste vriendin genoeg bestanddele sodat sy hul magies werklik vol kan kry. ‘n Pragtige storie, met ‘n mooi lewensles. Vir voorlees of selflees. Geskik vir ‘n wye ouderdomsgroep. Mooi uitdrukkingsvolle illustrasies.
Daly, Niki Zanzibarstraat ( LAPA, 2006) R60,00
Zanzibaarstraat met sy kleurvolle huisies en inwoners- Mamma Jumbo, Joejoe, Japtrap,Oompie Lawaai, Broe’Vsi, en Klein Tjiep, sal dadelik in die harte van jong lesertjies inkruip. Die ouilikste is natuurlik Klein Tjiep; die een wat sorg nodig het, en by Mamma Jumbo kom bly. As sy hom nie soek nie, maak sy n plan met die skaduwee teen die muur as hy nie kan slaap nie; of hou ‘n verjaarsdagpartytjie vir hom. Die teks lees lekker, die karaktertjies is oulik, en die boek leen hom tot verdere stories oor Mamma Jumbo en Klein Tjiep. Vir voorlees of selflees. Mooi aanbieding.
Nie-fiksie: Bull, Jane Die Reëndag-boek, Die Sonskyndag-boek; Die Towerboek ( H&R, 2006) Vertaler: Kobus Geldenhuys. R100 per boek.
‘n Stel van drie aktiwiteitsboeke , elk met 50 aktiwiteite vir vervelige reëndae, of maniere om in die son te baljaar, of sommer net betowerende aktiwiteite. Hierdie tipe boek is uiters gewild in biblioteke, veral in vakansietye of vir onderwysers wat kinders besig moet hou. Vir reëndae is daar byvoorbeeld krabbel-werk; meubels maak van weggooigoed; soutdeeg; weefwerk; boontjiesakkies; breiwerk en speletjies. Die Towerboek wys hoe om jou eie toorsak te maak; blufbalonne; toorvlinders;wiskindekunsies; hoe om jou eie drogdrankie te maak, en leer kul in ‘n kits. Op ‘n sonskyndag kan jy ‘n sonhorlosie maak; sonkuns beoefen; jou klere oemf gee; suurlemoenstrelers vir dorstiges maak; ‘n boot bou; vlae van sakke maak; sonvangers ontwerp; ‘n draagbare kampeerterrein maak; en sonskynspeletjies geniet. Kleurvolle boeke met oorspronklike idees wat eenvoudig en sistematies uiteengesit is. In hierdie onderwerpsgroep is daar groot leemtes in Afrikaans, en ons is opgewonde oor hierdie drie boeke. Kinders sal self wil besit.
Bekende skrywers/ reekse in Afrikaans vertaal:

Dahl, Roald Charlie en die groot glashyser en Matilda( H&R, 2006) In Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys. Elk R69,95

Hierdie boeke en skrywer het nie bekendstelling nodig nie. Welkome toevoegings tot Afrikaanse Kinderboekversamelings. Koop vir biblioteke en gee as geskenke vir kinders!
Hergé Die avonture van Kuifie: Die tempel in die son; Die 7 Kristalballe; en Die skat van Rackham die Rooie ( H&R, 2006) Elk R69,95
Kuifie bly baie gewild; en Afrikaanssprekende kinders sal tog te bly wees om hul lieflingkaraktertjie in hul eie taal te kan lees! Broodnodig vir biblioteekversamelings; maar ook vir tuis versamelings.
In die bekende ou Libri-reeks word klassieke literatuur weer stof afgeskud met bekende werke nou weer beskikbaar in Afrikaans; pragtig versorg met aantreklike omslae wat ‘n mens lus maak om die boeke te lees.

Defoe, Daniel Robinson Crusoe en Die Onsigare man, deur H.G.Wells. ( H&R, 2006) R89,95 elk. Nog twee Maasdorp titels is ook daar - Nukke op Maasdorp en Maltrappe op Maasdorp; Leoni Hofmeyr se bekende versameling van 26 sprokies en volksverhale is herdruk (H&R, 2006) R99,95 elk.; terwyl vier Reënboogrant titels ook herdruk is met pragtige nuwe omslae: Anderkant die Reënboog, en Hartebreker, beide deur Louise van Niekerk;(Reënboogrant Tieners) en Teddie se geheim en Die Hanswors ,deur Maritha Snyman en Teddie…deur Maritha Snyman en Loraine Hattingh. (Reënboogrant Maats) LAPA, 2006. R50,00 per titel.

No comments: