February 14, 2008

Resensies van Afrikaanse kinderboeke November 2005:

Wurms met tamatiesous en ander lawwe rympies, deur Jaco Jacobs(LAPA, 2005) R 59,95

Wat ‘n heerlike verassing om ‘n rympiesboek- hulle is so skaars soos hoendertande - in Afrikaans te sien. En dan so oorspronklik, snaaks en vrolik geilllustreer deur Jaco en Andrelise Meiring. Jaco Jacobs is besig om ‘n belangrike bydrae vir die Afrikaanse kinderboek te lewer, en hierdie bundel versterk net my opinie dat hy ‘n groot naam gaan word. Daar is meer as vyftig rympies, die een snaakser as die ander, van alien boeties, rekenaars wat olik is, ‘n Hompie Kedompie wat verseg om weer te val; ‘n fyn uitrbeelding van hoe die see smaak; tekkies wat stink ; mielies wat nie maniere het nie; ‘n seun wat so graag ‘n motorfiets wil he; drake wat van suigstokkies hou; spoke wat vir mense gril….. die een rympie is lekkerder as die vorige; en die skrywer het ‘n fyn aanvoeling vir die gees en gevoelswereld van die kind. ‘n Bundel wat elke kind kan besit; ‘n moet vir biblioteke en skoolversamelings. Geniet dit! Hoogs aanbeveel.
Heruitgawe van :

Alleen tuis (Reenboogrant Maats), deur Maritha Snyman Partytjies en penaries(Reenboogrant Tieners) deur Louise van Niekerk Skelmstreke en kattekwaad(Reenboogrant Maats) deur Maritha Snyman Hunks en Hamburgers(Reenboogrant Tieners) deur Louise van Niekerk (LAPA, 2005) R49,95 per titel.

Hierdie uiters gewilde boeke is weer beskikbaar , en baie aantreklik verpak in nuwe sagte pienk,geel en groen omslae kompleet met o.a. silwer hartjies en sterretjies, sodat elke meisie dit nie sal kan weerstaan nie.
Agent Snoet en die kattekwaad,deur Francois Bloemhof en met illustrasies deur Alistair Ackermann (LAPA, 2005) R59,95.
Hierdie is die tweede titel in die gewilde strokiesreeks, iets heeltemaals uniek in Afrikaans en ‘n goeie hulpmiddel om onwillige lesers, veral die seuns, aan die lees te kry! Agent Snoet en sy briljante Siamese kat , Felino, moet ‘n gevaarlike katte-rebellie aanvat en die meesterbrein daaragter ontmasker. Is die wrede moord op die bejaarde Van Zyl-egpaar net die begin van die uitdelging van alle mense? Sal die katte hulleself kan bevry ? Lees self en vind uit! Vir kinders wat nie lief is vir lees nie, en die lesertjies wat ‘n goeie humorsin het.
Maroelaboomstories, deur Leon de Villiers, met illustrasies deur Emily Bornoff(LAPA, 2005) R99,95
15 Oorspronklike diereverhale deur die skrywer wat alreeds verskeie toekennings vir sy werk verower het. Hy dink bobbejane het nog altyd van skinder en storievertel gehou, en saans klouter die trop bobbejane in ‘n maroelaboom om na stories te luister wanneer ooompie Langasem begin vertel. Die stories is heerlik ongekunsteld geskryf, en hy vertel van ‘ntrop olifante wat besluit dit gaan baie warmer wees om in ‘n nes te slaap soos die voels; die dorstige diere wat ‘n plan wil maak om van die bere wat al hul kosbare water opdrink, ontslae te raak; hoe die buffels hul strepe verloor het; ystervarke se skrikmaakspeletjies; seekoeie wat wil dans; die kameelperde wat groot skrik; hoe die tarentale name gekry het, en nog veel meer. Leon de Villiers het ‘n pragtige aanslag as dit kom by vertel; die dierekarakters word so oortuigend uitgebeeld; sy liefde vir die natuur en die diere van die veld kom sterk na vore. ‘n Boek wat elke kind tussen 6-12 jaar graag sal wil besit; en kleintjies sal tog te lekker luister as die stories aan hulle voorgelees word! Die illustreerder , Emily Bornoff, beindruk met haar sensitiewe uitbeelding van die diere, veral die bobbejane, klein en groot. ‘n Besondere aantreklike boek; so mooi en pragtig versorg. Hoogs aanbeveel.

No comments: