February 14, 2008

Boekresensies

Jeugboek Jakkalsvoël, deur Kobus Maree ( H&R, 2007)

In 1993 verskyn die skrywer se eerste jeugverhaal, Proefwedstryd vir Wikus, en nou in2007, 14 jaar later, ‘n tweede jeugverhaal, Jakkalsvoël. In 1993 was ek besonder beindruk met Proefwedstryd, op daardie stadium een van die min boeke waar ‘n skrywer daarin geslaag het om in die sige en ervaringswêreld van jeugdiges met oortuiging te klim. Die titel van hierdie verhaal het sterk simboliese trefkrag: ‘n Jakkalsvoël het die wonderlike vermoë om tydelike terugslae te oorkom; ‘n positiewe en parate wese. Dit word die uitdaging waarvoor die hoofkarakter Jacques te staan kom: kan hy, met die sielkundige se hulp sy persoonlike leed en beproewinge oorkom? Die verhaal ontvou geleidelik soos hy die legkaart van sy lewe stukkie vir stukkie voltooi; en eers aan die einde van die verhaal leer ons wat werklik gebeur het daardie dag toe hy en sy ma in hul motor deur rowers aangeval is. Die leser leer n sensitiewe onsekere seun ken , met n diep liefde vir sy ma; ‘n fyn waarnemer van die natuur; lief vir sy meisie; ‘n getroue vriend van die sorgelose De Waal; ‘n seun met ouers wat Jacques net kan bewonder vir hul standvastigheid. Sy eie geestelike stryd wat soms in drome uitgeworstel word, moet eers tot die uiterste beproef word , en sy lewe heeltemaal buite beheer raak, voordat hy tot volkome self-insig en volwassenheid groei. Hierdie is ‘n dapper poging van die skrywer om jeugdiges deur die karakter van Jacques en sy vriende aan te spreek en positief te probeer inspireer om soos die Jakkalsvoël tydelike terugslae te oorkom. Vanselfsprekend is die aanslag ernstig en intens, en hierdie is sekerlik nie die tipe verhaal wat jong lesers wat net op soek is na ligte vermaak in boeke, sal lees nie; maar die boek is waardevol as ‘n hulpmiddel tot selfondersoek en rypwording. Vir 11-14jariges. Word aanbeveel vir die ernstige jong leser. Ons almal ken al die gevoelens van onsekerheid en die strydende emosies wat saam met die grootword-proses gaan, en die skrywer het ‘n goeie aanvoeling vir jongmense., en skryf onderhoudend en gemaklik. Perfek is die boek sekerlik nie; ek het die natuurbeskrywings hinderlik gevind; bv. “kabbelende fonteintjies”; hier-en daar amper te stroperig soet. Dan is ek is nou maar eenmaal nie lief vir taalvermenging nie!- soos Cherize wat”adamant “is.
Lona Gericke

No comments: