February 14, 2008

Boekresensies Oktober 2007:

Nie-fiksie:

Evans, Jim Wat as my hond…? (LAPA, 2007) Afrikaans deur Jaco Jacobs

Wat ‘n oulike boek wat kundige antwoorde gee op al daardie vjierpotige probleme! Daar is niks soortgelyks in Afrikaans vir kinders nie; en selfs volwassenes sal die boek uiters nuttig kan gebruik. Die inhoudsopgawe is verdeel in: Deel 1: Verstaan en vorm jou hond se gedrag; Deel 2: Glipsies en probleme in en om die huis; en Deel 3: Voorkoming en behandeling van siektes; Deel 4: Die ouer hond-maak jou hond se goue jare goeie jare. Die outeur is ‘n internasionaal gerespekteerde veearts; en ‘n skrywer en dosent op die gebied van veeartsenykunde en dieresorg.. Hierdie is ‘n besonder leser-vriendelike publikasie; prettige illustrasies help om die trant lig en toeganklik te hou; ook foto’s. Die boek is keurig versorg; die indeling maklik leesbaar en die indeks is deeglik versorg. Hoogs aanbeveel vir biblioteek- en tuisversamelings.
Vir peuters en kleuters:

Human en Rousseau het ‘n paar prettige en kleurvolle boekies vir babas uitgegee. Small world Creations : Hasie-rugsakkie/Bunny back pack (H&R, 2007) 3-8 jariges.

Die oulikste Hasie-rugsakkie met drie kartonboekies binne-in die rugsakkie. Kartonboekies met die stories van Sarel die hondjie; Daantjie die kat en Hilda die Hasie ; ewe kleurvol in geel , groen en pienk omslae.Die teks rym en die inhoud is net min genoeg om die kleintjies te amuseer en lief vir boeke te maak. Die ideale geskenk vir kleinkinders en jou eie kind. Hoogs aanbeveel.
Ons nuwe baba , deur Dawn Sirett ( H&R, 2007) en Ons gaan na die dokter, deur Dawn Sirett ( H&R, 2007)
Hierdie twee kartonboekies is uiters handig om ouers te help om hulle kinders deur ‘n nuwe ervaring te lei. In biblioteke is daar gedurig navrae vir sulke boeke, en dit sal die voorraad goed aanvul. Ek hou daarvan dat foto’s van kinders gebruik word; wat die hele aanbieding meer realisties maak. Die 30 prenteplakkers is handig om mee te speel; veral as dit ook ‘n positiewe boodskappie dra, soos : Ek vat saggies aan die baba; Ek deel my speelgoed; Ek is ‘n goeie boetie/sussie! Ouers sal maar moet voorlees. Baie aantreklike stewige boekies.
2 Titels in die Skoonveë leer en speel reeks:

Ben en Madeliefie se Groottes en Vorms, en Ben en Madeliefie se tekenboek. ( H&R, 2007)

Hierdie boeke sal kleintjies heerlik vermaak terwyl hulle leer teken leer hulle terselfdertyd die verskillende vorms ken , asook om ‘n lugballon, skoenlapper, hond, kat, trein, pop, appel, roomys blom, by hen , kuiken, vis en stervis te leer teken deur eers die kolletjies te verbind, dan die voorwerp self te teken, gevolg deir ‘n hele prentjie te skep. ‘n Pen kom saam met die boek, en die bladsye kan skoongeveê word sodat dit kind dit weer en weer kan gebruik. Nie biblioteekmateriaal nie, maar defnitief vir die kind se tuisgebruik. Pragtig kleurvol en groot pret.

No comments: