February 14, 2008

Kort resensies van Afrikaanse kinderboeke Mei 2006:

Roux, Lize Perdedrome (Stalmaats-reeks 1) LAPA< 2006. R45,00 Roux, Lize Totsiens, Sugarplum(Stalmaats-reeks 2) LAPA, 2006 R45.00

Reekse oor Perde sirkuleer gewoonlik goed in biblioteke, en waar ons in Afrikaans min boeke met hierdie tema het, word die Stalmaats-reeks baie verwelkom. Ligte leesstof vir 9-11jariges.
Napp, Daniel Dr. Brom verstaan dit nie(H&R, 2006) R59,95. Ook in Engels beskikbaar met die titel Dr Brumm is puzzled.
‘n Groot formaat prenteboek waarin spottend verwys word na mense se obsessie met tv programme en die groot onsteltenis as die TV skielik dood is terwyl ‘n belangrike rugbywedstryd gespeel word. Dr. Brom die beer verstaan nie waar sy rugbyveld en spelers heen verdwyn het nie. Hy volg die kabel tot by die rivier waar drie bewers , ‘n wiel en ‘n snaakse masjien staan. Hy verstaan toe wel dat hulle hulp nodig het met die wiel wat op sy as teruggeplaas moet word. So kry die kassie weer lewe,maar waar is sy rugbyspelers nou?! ‘n Lekker vermaaklike storie, druk maklik om te lees en die boodskap vir diegene wat nie kassie-behep is nie, tog te lekker! Sal gewild wees. Voorlees of selflees.
Brink, Tania Ouens is nie pizzas nieI (LAPA, 2006)
In 2002 het Tania Brink die boek Liefde laat jou Rice Krispies anders proe tot groot vermaak van vele jong lesers geskryf, en nou is dit weer Ouens is nie pizzas nie! Netsoos die vorige titel lees hierdie boek tog te lekker, en sal met groot waardering ‘n plek op biblioteekrakke en tuis kry. Want Tania Brink kan ‘n storie vertel, so dat jy dit netnie wil neersit nie. Veral as die resep so reg is: 2 Meisies Anja en Zanelle wat vir die Desembervakansie in ‘n pizzarestaurant, Zip, werk waar hulle 2 aantreklike broers Markus en Abrie ontmoet. Afgesien van die liefdesintriges wat ontwikkel, is daar ook nog die gevaar dat Zip dalk gesloop gaan word om plek te maak vir ‘n luukse hotel… Hoogs aanbeveel as lekker ligte leesstof.
Smit, Louise Haas Das se nuuskas (H&R, 2006) R79.95. Illustrasies deur Fred Mouton.
Louise Smit skryf oor hierdie gewilde program: Haas Das was die eerste driedimensionele karakter vir die Suid-Afrikaanse kind wat op televisie verskyn het. Ook was Haas Das die eerste nuusleser op televisie vir Suid-Afrika: 6 Januarie 1976. Riaan Cruywagen was Haas Das, die nuusleser van Diereland. In hierdie nuwe versameling kan oud en jonk hul weer verlustig in die humor , wyshede en drama wat gepaard gaan met kommentaar oor gebeure in die dierewereld. Hierdie is die soort boek wat ouers en grootouers graag aan kinders sal skenk; en ideaal vir saamlees en voorlees. Fred Mouton se illustrasies is vol humor en vul die lewendige vertelling pragtig aan.
Bloemhof, Francois Riller-omnibus(H&R, 2006) R99,95
Al Bloemhof se bekende rillerverhale is hier in een band saamgevat en volledig bygewerk: Die speletjie, Die vrou met die pers oog; Donkerwoud; Hospitaaltyd; Tannie Langklou; Die waterding, Kamer 13 en Vampiere in Londen. ‘n Baie aantreklike stofomslag maak hierdie ‘n uiters begeerlike boek vir eie versamelings ; veral waar die verhale reeds so gewild is en jong lesers nou al hul gunsteling stories” onder een dak” kan saamneem op vakansie , of waarheen ookal. Hoogs aanbeveel.
Brandt, Marianna Die Stoutsterte: Poot aan wal (H&R, 2006) R79,95
In 2002 verskyn die eerste boek oor die wonderbaarlike avonture van twee muisgesinne, die Van Stertens en die Kaase, naamlik Die Stoutsterte van Texel tot Tafelbaai. Na ‘n opwindende seereis saam met Jan van Riebeeck op die Drommedaris, land hulle op 6 April 1625 in die Kaap. En nou volg die tweede boek: Poot aan wal! Marianna Brandt gebruik hierdie kinder-vriendelike muiskarakters om ‘n stukkie van ons Geskiedenis vir jong lesers te ontsluit. Soos Jan van Riebeeck en sy mense moet hulle ook aanpas in hierdie nuwe vreemde land, blootgestel aan die eienaardige gediertes; kennis maak met inheemse muise soos Oedas en Gorra, en die bou van die fort De Goede Hoop beleef. ‘n Interessante vermaaklike en ook leersame boek . Marianna Brandt het deeglike navorsing gedoen, en die illustreerder Tanja Joubert lewer soos gewoonlik ‘n puik bydrae met haar humoristiese illustrasies om die boek uiters aanloklik vir leserstjies te maak. Hoogs aanbeveel.
Lona Gericke, Julie 2006

No comments: